Sukses met somerdekgewasse in winterreëngebied
Die droëland-somerdekgewasmengsel van 12 kg/ha babala, 0,5 kg/ha Barkant-knolraap en 0,5kg/ha Barcoli-blaarraap is op 12 Oktober 2020 op die plaas Alpha by Caledon in die Overberg geplant.
Somerdekgewasse hou baie voordele in en kan heelwat weiding en ’n goeie deklaag produseer as dit genoeg reën kry. Somermengsels is goedkoop omdat dit teen lae saaidigthede aangeplant word. Die bekostigbaarheid daarvan maak die risiko wat daarmee gepaard gaan, die moeite werd en bied die boer die geleentheid om enige somerreënval te benut. Die praktyk kan ook help om somervoervloeigapings te vul deur weiding vir skape of beeste te produseer. ’n Lewende bedekking is dikwels beter as kaal grond gedurende die somer, veral in herlewingslandboustelsels. Somerdekgewasse verleng die tydperk waartydens daar lewende wortels in die grond is. Dit kan selfs met someronkruid meeding. Dit is belangrik dat enige boer wat somerdekgewasse wil plant, vooraf moet bepaal wat die doel daarmee is. As jy biomassa wil produseer, sal ’n laer saaidigtheid voordelig weer sodat daar nie te veel mededinging om grondvog tussen die plante is nie. As die onderdrukking van onkruid jou hoofdoel is, sal ’n hoër saaidigtheid dit moontlik maak. Dit is uiters belangrik om jou tydsberekening vir plant reg te kry. Somergrasse, soos sorghum en babala, verkies grondtemperature wat konstant bo 18 °C en aan die styg is. Namate dit warmer raak, word die reënval natuurlik minder in hierdie gebiede. Koolgewasse, soos blaar- en knolrape, is minder gevoelig vir temperatuur en kan vroeër geplant word, wat meer sekerheid oor reën bied. Hoe vroeg jy die dekgewasse kan vestig, word ook bepaal deur wat in die winter op die land was en wanneer dit geoes of van die land verwyder is. Dit is ideaal om somerdekgewasse te plant as daar voldoende grondvog of ’n goeie bui reën op pad is. Daarom moet grondtemperature en reënvalvoorspellings noukeurig dopgehou word namate die aanplantingstyd nader kom. Risiko kan verminder word deur aanplantings oor ’n paar weke te versprei. Dit verhoog die kanse dat van die aanplantings tydens die perfekte balans tussen grondtemperatuur en beskikbare vog geplant word, wat uiteindelik tot beter resultate lei. Nog ’n manier om risiko te versprei, is om ’n mengsel van spesies te vestig. Mengsels hou vele grondgesondheidsvoordele in en bied ’n meer gebalanseerde dieet vir diere. Ons ontledings toon die rape het gewoonlik ’n hoër ruproteïen- en mineraalinhoud as babala, maar babala is hoër in vesel. Daarom bied die mengsel ’n goeie balans tussen opbrengs en gehalte.
DOELTREFFENDE BESTUUR
Ten spyte van al die voordele is daar ook probleme met die verbouing van somerdekgewasse in die Wes-Kaap. Vog- en voedingstoftekorte in die opvolgende winter kan ’n probleem wees, maar daar is maniere om dit doeltreffend te bestuur. Eenjarige somergrasse, soos babala en voersorghum, ontgin die grond vir voedingstowwe en gebruik dit om biomassa te produseer. Daarom is regstellings deur middel van bemesting voor en ná die vestiging belangrik, veral as ’n kontantgewas die jaar daarna in die winter verbou gaan word. As die dekgewasse betyds beëindig word, sal dit help dat die reste wat agterbly, genoeg tyd het om te ontbind en voedingstowwe vry te stel. Dit sal ook toelaat dat die stikstofnegatiewe tydperk wat gepaard gaan met die afbreek van reste, buite die groeiseisoen van die wintergewasse val. Om vas te stel wanneer dekgewasse beëindig moet word, kan die hoeveelheid en tydsberekening van somerreën in ag geneem word. Die idee is gewoonlik om laat lente- en vroeë somerreën te benut met een of twee weidings, en die gewasse daarna met chemiese middels dood te spuit of plat te rol. As daar genoeg materiaal is, is rol die beste opsie. As die reën langer in die somer aanhou, kan die dekgewas later beëindig word om die volle voordeel daaruit te kry. Die uitwerking van somerdekgewasse op grondvogvlakke namate die winter binnegegaan word, hang van verskillende faktore af, maar dit kan ook bestuur word deur die dekgewasse op die korrekte tyd te beëindig. Somerdekgewasse onttrek uiteraard vog aan die grond, maar sodra dit beëindig word om ’n deklaag op die grond te vorm, kan dit meer vog bewaar as ’n kaal land. Met die reënval wat al hoe meer wispelturig en sporadies voorkom, moet alle moontlike opsies oorweeg word. Volhoubare oplossings, soos somerdekgewasse, kan die boer vir die volgende seisoen voorberei, wat dit ook al inhou.
Barkant-knolraap deurlug die grond en verskaf gehalteweiding.
Saad van die verskillende dekgewasse, met Barcoli-blaarraap (bo),
babala (middel) en Barkant-knolraap (onder).
NAVRAE: Mnr. Ivan Jansen van Rensburg, ijvr@barenbrugsa.co.za; 082 301 5934.