Nuwe kultivars vir weiding en grondgesondheid
*Soos geskryf deur Amelia Genis en gepubliseer in Landbouweekblad - 'n Oktober uitgawe
Daar is heelwat opwindende nuwe wei- en dekgewaskultivars vir die Swartland beskikbaar, van soet- en bitterlupiene en voerrog tot ’n nuwe klawer, fababone met kleiner sade, en vele gewasse vir grondeienaars wat bye en roofinsekte wil lok.
Middel September is ’n goeie tyd om na gewasproewe in die Swartland te gaan kyk. Dit is dan duidelik in watter groeistadium die gewasse is en hoe hulle die grootste deel van die groeiseisoen oorleef het. Dit kan ook help om afleidings te maak oor wat kan gebeur as dit nog reën of die reën opgehou het. Die saadmaatskappy Barenbrug se onlangse proefbesigtiging het heelwat belowende nuwe gewasse en kultivars van bekende gewasse bekend gestel. Mnre. Jaco Kellerman en Ivan Jansevan Rensburg, onderskeidelik portefeuljebestuurder en tegniese bemarker by Barenbrug, sê daar is al hoe meer belangstelling in dekgewasse, voergewasse en gewasse wat bye kan voer of ander insekte kan lok. Kellerman het ’n paar opwindende moontlikhede uitgewys. Die Barpower-voerrogkultivar is ’n ou bekende vir Kaapse boere, maar daar is ook nou die kultivar Vergel wat ’n langer groeiseisoen het en meer halms en blare dra en meer stoel as Barpower, wat regop groei. Kellerman meen die nuwe Vergel-voerrogkultivar kan ’n groot verskil aan voervloei op baie plase maak. “Vergel se verhouding tussen blaarmassa en stamme is baie beter as dié van ander voerrogkultivars. Sy siekteweerstand is ook baie goed.” Vergel is smaaklik en kan vir enige vee as weiding dien of hooi kan daarvan gemaak word. “Ek sou nie kuilvoer met die kultivar maak nie. Dit produseer nie baie pitte nie. Hawer is in elk geval steeds die beste vir kuilvoer.” Crimson-klawer, ’n peulgewas wat reeds in dekgewasmengsels of as weiding gebruik word, is in twee kultivars, Contea en Kardinal, beskikbaar. Hoewel Contea en Kardinal presies dieselfde spesie is, groei Contea aansienlik beter as Kardinal en lewer dit op die oog af dubbel die biomassa met baie breër blare in dieselfde omstandighede. Die klawers kan meer as een keer bewei word, veral as daar vroeg in die groeiseisoen begin wei word.
NUWE LUPIENKULTIVARS
Lupiene het vir lank aan die agterspeen gesuig omdat saadtelers, veral in Australië, nie ’n tegnologieheffing ontvang het nie. ’n Tegnologieheffing vir lupiene is onlangs in die Staatskoerant afgekondig en talle nuwe kultivars is vanjaar oral in dieKaapse graangebiede getoets. Kellerman is baie opgewonde oor die nuwe lupienkultivars, meestal uit Wes- Europa, wat hulle vanjaar vir die derde jaar getoets het. Twee van die soetlupienkultivars wat hy meen van waarde in die Swartland kan wees, is Boruta en Haags Blaue. Albei dra ritse peule net op die hoofas, maar was middel September amper klaar geblom en swaar van die peule. Kellerman sê dit pas hulle, want Barenbrug soek kultivars wat produseer. “Die kultivars het wel ’n ongewone groeiwyse vir ons wat gewoond is aan peule wat meer versprei deur die plant gedra word, maar ’n kultivar soos Haags Blaue is reeds vol peule.” Ildigo, ’n blou bitterlupien uit Duitsland, het nogal aandag getrek tydens die proefbesigtiging. Dit groei baie hoog en dra blomme net bo-op die plant. Van die boere wat die proewe besoek het, meen die plante gebruik darem te veel van hul energie om blare en stamme te produseer en blom te laat.
WEI- EN SOETWIEKE
Volgens Kellerman is wieke een van die mees onderskatte weidingsgewasse vir droëlandgebiede in die Wes-Kaap. Volga, ’n soetwiekkultivar met ’n relatief regop groeiwyse, en weiwiekkultivars soos Haymaker is beskikbaar. “Soetwieke het ’n korter groeiseisoen en is amper klaar geblom. Dit het groter peule as weiwieke en kan as weiding, dekgewas en hooigewas benut word.” In mengsels moet dit verkieslik saam met korog, rog of voergars, en nie saam met hawer nie, gebruik word. Die hawer groei te geil. Weiwieke is sterker rankers met ’n langer groeiseisoen, maar produseer baie materiaal en gee goeie hergroei ná beweiding. Kellerman sê soetwieke sal beter wees vir die Swartland, wat dikwels ’n korter groeiseisoen het.
FABA MET KLEINER PITTE
Avalon is ’n nuwe fababoonkultivar met ’n kleiner pit en groot materiaalproduksie. Volgens Kellerman kan die kultivar vir kuilvoer en groenbemesting gebruik word. “Dit is die eerste fababoon met ’n klein pit wat ons kon kry. Die pit is omtrent so groot soos ’n akkerboon. Dit beteken fababone kan nou goedkoper gevestig word omdat die saaidigtheid laer kan wees. Dit gaan ook die plantproses makliker maak omdat die groot, plat bone nie meer planters gaan blokkeer nie.” Die kultivar is vanjaar vir die eerste keer deel van die proef.
MEERJARIGE MENGSEL
Gewasmengsels wat bewei of ingekuil word, is algemeen, maar Barenbrug het vanjaar ook ’n meerjarige veelspesie-droëlandmengsel van plantaan, sigorei, lusern en rooiklawer gevestig. Hy besef droëlandlusern is beter bekend in die Suid-Kaap. “Dis eintlik ’n perfekte besproeiingsmengsel wat hoë gehalte en goeie proteïen bied, ’n uitstekende kombinasie vir enige diere. “Ons wil kyk hoe lank ons die mengsel in die somer kan rek omdat baie mense iets soek wat in die somer ook nog voer gee. Die plante behoort beter te groei as dit warmer word en die dae langer word.”
PLANTE VIR BESTUIWERS
Daar is al hoe meer versoeke vir plante wat bye kan voed of verskillende insekte lok. Barenbrug het ’n “blommengsel” met mosterd, ertjies, phacelia, lupiene en wieke wat baie materiaal produseer, maar wat amper almal op dieselfde tyd blom. Vanjaar het hy ’n “stuifmeelmengsel” uit Frankryk geplant. Die mengsel is bietjie stadiger uit die wegspringblokke, maar dit lyk asof daar gedurig iets blom. Die mengsel bevat onder meer klawers, koljander, phacelia, lynsaad en plante van die asterfamilie. Wat hulle behoorlik opgewonde maak, is komkommerkruid (borage, Borago officinalis) met sy stervormige blou en pers blomme. In Europa het baie mense komkommerkruid geplant om ’n takkie van die plant met sy mooi pers blomme in die somer saam met hul Pimm’s Cup-pons te drink. Kellerman sê hulle het ’n kans gewaag en dit saam met al die ander saad in die herfs geplant. Die plante floreer hier en lok bye vir ’n vale.
Vir verdere tegniese navrae kontak Jaco Kellerman: jkellerman@barenbrugsa.co.za, 082 940 8383